
'n Sekuriteitskenner het onlangs gewaarsku dat ouer persone toenemend sagte teikens vir misdadigers word. Misdaadvoorkoming is ons almal se verantwoordelikheid en nie slegs dié van ons wetstoepassers nie. Deur die volgende wenke toe te pas, kan senior burgers hulself teen misdaad beskerm. Maak ook jou buurman bewus daarvan en bekamp misdaad wyd.
By die huis:
- Moet nie jou deur vir 'n vreemdeling oopmaak nie. Hou al jou deure wat na buite lei, gesluit en voorsien hulle van loergate.
- Wissel jou daaglikse bewegingspatrone. Moenie elke dag op dieselfde tyd gaan stap of winkels toe gaan nie.
- Moenie notas op jou deur los nie.
- Laat ligte aanbly as jy snags iewers heen gaan.
- Lig jou buurman in as jy vir 'n lang tydperk weg van jou huis af gaan wees.
- Kanselleer tydig jou koerantaflewerings en reël dat iemand jou pos uithaal as jy vir lank weggaan of vakansie gaan hou.
- Rapporteer verdagte persone in jou omgewing. Hou die plaaslike polisiekantoor of 'n sekuriteitsfirma se nommer byderhand.
- Vra vir identiteitsdokumente indien 'n vreemdeling sou aanklop.
- Weier vreemdelinge die gebruik van jou telefoon. Maak liewer self die oproep indien nodig. Moenie dat 'n vreemdeling voet oor jou drumpel sit nie.
- Moenie jou huissleutels onder die matjie by die voordeur of in die posbus vir iemand laat nie.
- As jy vermoed jy word agtervolg of enige ander onraad vermoed, bel die polisie.
Tydens wandelings:
- Vermy dit om saans of in die nag alleen te stap.
- Moenie wapens saam met jou dra as dit nie absoluut nodig is nie. Jou wapen kan tydens 'n aanval afgeneem en teen jou gebruik word.
- Beweeg in verligte areas as dit begin donker word.
- Moenie dat jou beursie sigbaar wees wanneer jy stap nie en moenie groot hoeveelhede geld saamdra nie.
Tydens inkopies:
- Hou jou beursie aan jou en nie in die mandjie of trollie nie.
- Gebruik eerder 'n koopkaart as om groot hoeveelhede geld saam te dra.
In 'n motor:
- Hou jou deure gesluit.
- As jou motor onklaar raak, trek links van die pad of, maak die enjinkap oop en wag vir hulp binne-in jou motor.
- Hou jou motor in rat by 'n stopstraat.
- Beplan jou roete.
- Moenie jou beursie in die voertuig los nie.
- Sluit waardevolle goed in die kattebak toe.
- Moenie rylopers oplaai nie.
By die bank:
- Wys hulp by die outomaat van die hand.
- Moenie jou krediet- of debietkaart aan iemand gee om jou te help nie.
- As jy hulp nodig het, gaan sien 'n beampte in die bank.
- Moenie saans van outomate gebruik maak as die perseel nie helder verlig is nie.
Deur jou "gesonde verstand" soos hierbo te gebruik, kan jy jou lewe soveel veiliger maak. As jy enige wenke het, skakel gerus vir Albert Gryvenstein van Bossiesjustice by 082 567 5212.



